JAARPROGRAM

Vergaderings van die tak word elke derde Saterdag van die maand om 14h00 gehou by die Nederduits Gereformeerde Kerk Ontdekkerskruin, Philipslaan, Ontdekkers, Roodepoort.
Klik op JAARPROGRAM
hierbo vir besonderhede.

20 March 2010

Warm wenk: kry boedelbesonderhede só

Die boedelbesonderhede van ‘n persoon is vir die genealoog van groot belang, omdat dit drie waardevolle dokumente bevat: ‘n sterftekennis, ‘n testament en ‘n likwidasie- en distribusierekening

Hoe kry ‘n mens dit?

Dennis Pretorius verduidelik hieronder.


1. Die eerste stap is om die boedelverwysing te bekom vir die persoon na wie se sterftekennis jy soek. Om dit te kan doen moet jy weet wanneer die persoon gesterf het. Die jaar is goed genoeg. Soek die kontakbesonderhede vir die verskeie kantore van die Meester hier.

2. Bel dan die Meester in die gebied waar die persoon geleef het ten tye van sy afsterwe. Dit is gewoonlik nie 'n maklike proses nie, aangesien die meester se registrasiekantore nie bekend is daarvoor dat hulle spoedig hul telefone beantwoord nie.

3. Met die verwysing wat jy dan by die Meester se Registrasiekantoor gekry het, kan jy die sterftekennis asook ander dokumente in die boedelleêr bestel. Dit kos R 4.50 per dokument. Die dokumente wat gewoonlik inligting van belang bevat is die sterftekennis, die testament en die likwidasie- en distribusierekening.

4. Laai die bestelvorm (Circular 68 of 2009) af by die webwerf van die Departement van Justisie hier.

5. Betaal dan die geld in die rekening van die Departement van Justisie. Gebruik die kode, soos aangetoon in die instruksie (Circular 68 0f 2009) van die Departement van Justisie.

6. Pos die aansoekvorm tesame met die bewys van betaling aan die betrokke Meester se kantoor. (Terloops, die Departement van Justisie het onlangs hulle reëls vir die betaling van fooie gewysig toe die Ontvanger van Inkomste die gebruik van Inkomsteseels gestaak het. Hulle moes derhalwe 'n metode skep waarvolgens mense kon betaal vir afskrifte van verskeie soorte dokumente.)

Gewoonlik wag jy 'n hele paar weke maar die Meester in Bloemfontein is baie vinniger as die ander kantore met wie ek sake gedoen het

Dennis het vroeër op SAGen vertel van die dienslewering in dié verband by die Meesterskantoor in Bloemfontein:

Op 15 Februarie bel ek en kry die Boedelnommers;
Op 15 Februarie betaal ek die R 4.50 vir elke boedel in die bankrekening van die Meester;
Op 15 Februarie pos ek dit vanaf Krugersdorp aan die Meester in Bloemfontein;
Op 17 Februarie plaas die Meester se kantoor hulle stempel op die aansoek;
Op 18 Februarie word die posstuk terug na my gefrankeer in Bloemfontein.

Hierna is daar nog 'n naweek.

Op 22 Februarie om 10:00 ontvang ek die koevert met al die sterftekennisse waarvoor ek betaal het.

Ek dink dit is regtig uitstekende diens van sowel die SAPoskantoor as die Meester se Kantoor in Bloemfontein

Ek sal vir hulle elk 'n brief skryf om hulle te bedank.