JAARPROGRAM

Vergaderings van die tak word elke derde Saterdag van die maand om 14h00 gehou by die Nederduits Gereformeerde Kerk Ontdekkerskruin, Philipslaan, Ontdekkers, Roodepoort.
Klik op JAARPROGRAM
hierbo vir besonderhede.

01 March 2010

Daar is 'n verskil tussen uitsluiting en vrystelling

Die beoogde Wet Op Die Beskerming van Persoonlike Inligting is vir menige mens doenig met die Genealogie ‘n kwelling. Daar is bekommernisse in hoe ‘n mate genealogiese inligting voortaan ingesamel of selfs geopenbaar mag word.

Hierdie Wetsontwerp sal by GGSA se Algemene Jaarvergadering (AJV) in Maart 2010 aangespreek word. Neels Coertse, ‘n praktiserende prokureur met meer as 30 jaar regservaring en ‘n lid van die Wes-Gautengtak, sal ‘n referaat daaroor lewer. Hy was vroeër nege jaar lank ‘n advokaat.
Neels is deur Hendrik Louw, president van die GGSA, versoek om duidelikheid te gee ná ‘n indringende gesprek tussen hulle.

Die onderwerp van die referaat is: Die toepassingsveld en impak van die Wetsontwerp: Beskerming van Persoonlike Inligting.

Neels vertel: “Ek het heelwat ure bestee aan navorsing daaraan en is steeds besig met leeswerk. Daar is onkunde en wolhaarstories rondom hierdie wetsontwerp.

“Die Regskommissie het baie duisende woorde hieroor gelees, geskryf en gepraat.

“Al die stukke wat ek sover te lese gekry het, handel slegs oor daardie hoofstukke van die Wetsontwerp wat die vereistes neerlê wat nagekom moet word.

“Hoofstuk 2, en meer spesifiek artikel vier, handel met uitsluitings. Die eerste uitsluiting is die prosesering van persoonlike inligting wat vir suiwer persoonlike of huishoudelike doeleindes versamel word.

“Al die ander hoofstukke van die Wetsontwerp handel oor vrystellings wat verkry moet word. Vir my lê die oplossing vir die genealogie juis hier: die kardinale en wesenlike verskil tussen ‘n uitsluiting en ‘n vrystelling. As ‘n mens die aanvaarde beginsels van wetsuitleg toepas dan moet ons dit in ag neem.

“Voorts het ek ook na die taalkundige hantering van die Wetsontwerp gekyk. My mening is dat dit onderstreep wat ek hier beweer: die Wetgewer het baie eksakte terme gebruik en die onderskeiding is deurgaans en konsekwent gehandhaaf.”

•  Die AJV word op 26 en 27 Maart 2010 by die Voortrekkerminument gehou. Neels sal op 26 Maart ná 13:00 praat.

“Ek beskou dit as ‘n besondere voorreg en eer om juis daar te praat,” sê Neels

Neels se praatjie sal agterna in die nuusbrief van die Wes-Gauteng- tak verskyn asook op hierdie blog.