JAARPROGRAM

Vergaderings van die tak word elke derde Saterdag van die maand om 14h00 gehou by die Nederduits Gereformeerde Kerk Ontdekkerskruin, Philipslaan, Ontdekkers, Roodepoort.
Klik op JAARPROGRAM
hierbo vir besonderhede.

25 September 2011

Erfenisdagviering in Roodepoort

Die tak se deelname aan Erfenisdagviering by die Roodepoortse Musuem op Sondag, 25 September 2011 het goed afgeloop. Altesame elf taklede het aan ons genealogie-uitstalling deel gehad.

Digby 100 name is tot e-SAGI bygevoeg. Nuwe taklede is die geleentheid gegee om hul eie navorsing met Lucas Rinken te bespreek. Terselfdertyd het lede die geleentheid gebruik om mekaar beter te leer ken.

Dit was 'n goeie voorbereiding vir die Hobby-X-uitstalling later vanjaat.

Op 4 Februarie 2012 hou ons weer ‘n Genealogiedag saam met die Roodepoortse Museum. Dis ‘n geleentheid wat die museum ons elke jaar met hul opedag bied. Vir die tak is dit ‘n uitstekende geleentheid om ons produkte te verkoop, nuwe lede te werf en ons tak wyer bekend te stel.

24 September 2011

Besige tyd

Giel Nel
Deur John Stephens

Verlede Saterdag, 17 September, het ‘n elftal lede onder leiding van Giel Nel, ons begraafplaaskoördineerder, die fotografering en optekening van die grafstene in die Panorama-begraafplaas aangepak. Honderde grafte is opgeteken en gefotografeer.

Margaret Humphries
Dit was ‘n heerlike lentedag. Daar was nie net gewerk nie, want Margaret Humphries  het heerlike verversings saamgebring en ons kon dit geniet en terselfdertyd ‘n bietjie asem skep. Dis jammer dat nie meer lede hierdie ervaring kon beleef nie. Dit was ‘n geleentheid om onderlinge verhoudinge te verbeter en kameraadskap te bou.

Lucas Rinken
Ongelukkig het voorsitter Lucas Rinken ongesteld geraak en hy moes vertrek.

Sondag, 25 September, neem die tak deel aan ‘n Erfenisdaguitstalling saam met die Roodepoortse Museum. Lucas sal die leiding neem. Talle lede sal ook daar wees vir morele ondersteuning en om toeskouers in te lig oor ons tak en sy aktiwiteite.
 
Lucas is 'n ervare man as dit by uitstallings kom. Nie aleen voer hy die span by die jaarlikse Hobby-X uitstalling aan nie, maar hy was ook die leier by die uitstalling op 3 September in Pretoria. Hierdie uitstalling word jaarliks deur die bekwame Isabel Groesbeek georganiseer. Vanjaar was Lucas en Kriek Fourie ons verteenwoordigers.

Uitstallings is vir die tak ook van groot waarde, aangesien dit ook die geleentheid skep waar takfondse versterk word deur die verkoop van ons produkte soos e-SAGI.

Kriek Fourie
Die volgende takbyeenkoms is op 15 Oktober 2011.  Ons gaan in groepe verdeel.  Onder bekwame leiers gaan ons probleme wat ons in ons eie navorsing ondervind, bespreek en oplossings daarvoor probeer vind. Ons nooi alle lede en belangstellendes om dit by te woon. Die byeenkoms begin om 14:00 in die kerksaal van die Ned. Geref. Kerk, Ontdekkerskruin.

Vanjaar is ons tak tien jaar oud. Om hierdie geleentheid feestelik te vier, hou ons ‘n verjaardagmakietie op 19 November 2011 om 14:00 op die kerkgronde van die Ned. Geref. Kerk, Ontdekkerskruin. Daar sal ‘n verjaardagkoek wees. Mienie Pretorius en Margaret Humphries sal daarvoor sorg. Kriek Fourie sorg weer vir die bring-en-braai. Om die taklede se verskuilde talente na te speur, sal daar ‘n impromptu-konsert wees. Dit gaan ‘n jollige affêre wees. Terselfdertyd is dit ook die afsluiting van ons jaar.