JAARPROGRAM

Vergaderings van die tak word elke derde Saterdag van die maand om 14h00 gehou by die Nederduits Gereformeerde Kerk Ontdekkerskruin, Philipslaan, Ontdekkers, Roodepoort.
Klik op JAARPROGRAM
hierbo vir besonderhede.

17 May 2010

Nalatigheid en vernielsug by argiewe

In ‘n onlangse gesprek oor op SAGEN oor die nalatigheid en vernielsug by Suid-Afrikaanse argiewe is onstellende voorbeelde genoem.

Isebelle Krauss skryf: ‘n Argivaris het ons vertel dat hulle ‘n persoon in hul leeskamer gekry het, ‘n redelik bekende genealoog wat ‘n register op die vloer gesit het, toe sy voet op die bladsy geplaas het om dit oop te hou om sodoende van bo af digitale foto’s te kan neem. Kan jy jou voorstel hoe die hele register, die rugbinding en die bros papier daardeur aangetas is?

Só hoor ‘n mens van
  1. bladsye wat summier verwyder word uit registers -- sommer uitgeskeur of uitgesny word;
  2. ander wat die registers rondgooi;
  3. die bladsye plat druk en skeur;
  4. penmerke los en
  5. skryf op dokumente.
    Annelie Els, Pretoria skryf: Ek is al `n hele aantal jare die fotograaf vir die eGGSA-webwerf en het al BAIE dinge by die Nasionale Argiewe gesien wat my hare laat rys het. Ek is geensins `n opgeleide argivaris nie, maar het respek vir enigiets wat oud is, maak nie saak wat dit is nie.

    ‘n Mens sou dink dat die persoon wat agter die toonbank by die TAB-biblioteek werk iets weet van bewaring van ou dokumente.
    1. Ek het eendag aanskou hoe `n iemand een van die heel oudste boedels na die vrou agter die toonbank

      neem,  omdat die sterftekennis los was en laasgenoemde dit baie mooi met gewone 'cellotape' weer vasgeplak!
    2. Een dag het `n man gesit en navorsing doen met `n hele aantal van die 'box-files' op sy tafel -- seker tien en volgens die reëls mag daar net EEN wees. Hy het al die leêrs wat vir hom van belang was uitgehaal en op `n stapel geplaas. Nadat my bloeddruk dit nie meer kon hou nie, het ek met die vrou wat agter die toonbank vir meer as `n halfuur met `n persoonlike telefoonoproep besig was, daarvan gaan sê. Moet ook byvoeg dat ek deur haar oor die vingers getik is.  Sy het my MOOI vertel dat sy weet hoe om haar werk te doen.
      Louis Engelbrecht, Villieria, Pretoria skryf: Ek stem saam oor die korrekte gebruik van ou dokumente en dat die mense by TAB die reëls nie nakom nie.

      Ek het op 'n stadium gedink ek is die enigste een wat net een boks op 'n slag by my tafel het. Soms loop ek 'n voetpad tussen my tafel en die dokumente toe.
      • Nog 'n reël wat niemand volg nie, is dat jy nie met 'n pen mag skryf nie. Slegs met 'n potlood. Die reel is daar, maar ek dink nie iemand volg dit nie. Kyk maar na die bestelvormpies. Hulle is almal met penne ingevul.
      Ek neem ook foto's by TAB van die dokumente. Baie van my foto's is skeef en donker op kolle omdat ek die blaaie nie oopforseer nie. As die foto dan nie so mooi uitkom nie, maak dit nie saak nie, ek wil net die inligting redelik kan sien.

      Die reël van die reserveertafel is dat die dokumente net vir 24 uur gereserveer moet word. Ek het vanoggend, 8-uur dokumente daar gesien wat in die begin van April geserveer is, en nog net so daar lê. Ek wil nou nie mense benoud maak nie, maar daar die name van die mense wat die dokumente gereserveer het pryk groot op die reserveringsvormpies.

      Annelie Els, Pretoria skryf: Strenger maatreels is nie die probleem nie, dis `n geval van skeer ALMAL asseblief oor dieselfde kam.

      Een dag stap ek daar in met my gaassakkie waarin my skryfgoed, selfoon, die Prestik vir kamera se pote, die kamera se skroef en dies meer in is. Die ding is van `n plastieknet gemaak en so groot soos `n potloodsakkie, 'n mens kan alles sien wat daarin is.

      Sekuriteit wou my nie by die voordeur inlaat nie, tensy ek alles uithaal en in my hande indra.

      Skaars `n uur later wals `n dame by die leeskamer in met haar handsak oor die skouer `n plastieksak waarin al haar goed is PLUS `n bottel water en ek gaap die vrou met `n oop mond aan.

      `n Ander dame dra haar goed in `n groot tupperware bak daar in.

      Maandag het `n vrou met haar flits foto’s geneem. Haar verskoning was dat sy nie weet hoe om die ding af te sit nie ... verbeel jou. Ek sê basta, vra haar dan om te loop.

      Die een man dra vier "boxfiles" tafel toe, sit drie op die VLOER neer en werk uit een. Ek belowe jou as ek of jy dit gedoen het, het hulle ons gevra om te loop. Intussen sit daardie mannetjie wat die kameras monitor ONS en dophou. Maar nou ja ek probeer om deesdae glad nie golwe te maak nie, anders wag jy die hele dag vir jou versoeke.

      Isebelle Krausse skryf: In die buiteland, Engeland , Frankryk en veral Duitsland waar ek was in die sewentigs, mag jy toe al nie ‘n pen eers naby die argief gebring het nie. Ons is opgelei dat almal sakke, penne ens. by die toonbank moet laat, sonder uitsondering. By ons eie argiewe (LDS-kerk) verskaf ons ook sagte potlode, asook die skerpmaker wat die snysels opvang, en só die mors daarvan voorkom. Ek glo dat strenger maatreëls ook hier ingestel sal moet word.