JAARPROGRAM

Vergaderings van die tak word elke derde Saterdag van die maand om 14h00 gehou by die Nederduits Gereformeerde Kerk Ontdekkerskruin, Philipslaan, Ontdekkers, Roodepoort.
Klik op JAARPROGRAM
hierbo vir besonderhede.

15 May 2010

Genealogiedag lei tot herontmoeting ná 60 jaar

Deur John Stephens,  mede-vise-voorsitter

Links is ‘n foto wat ‘n regstreekse uitvloeisel is van die genealogiedag op Klerksdorp op 17 April 2010. Dit was 'n herontmoeting tussen 'n neef en 'n niggie ná byna 60 jaar.

Dit het só gebeur:  net voordat ons voorsitter, Lucas Rinken, sy databasis en projektor daardie middag net na 15.00 wou afskakel, kom sit daar twee dames voor hom. Kan hy asseblief kyk wat hy op e-SAGI van die Camphers van Wolwespruit het, was hul versoek. Ek was langs hom en besef dat ek hier met eie familie te doen het. Dit blyk by navraag toe dat dié twee Martha Margaretha (Martie) CAMPHER en haar dogter Maggie le Grange is. Hulle was ook inwoners van die familieplaas, Wolwespruit, waar my ma skool gegaan het en my ouma gewoon het.



Hulle ontsluit toe vir my ‘n bron waarna ek wie-weet-hoe lank gesoek het. Dis die oudste broer, Frans Hendrik CAMPHER, van my oupagrootjie, Christoffel Johannes CAMPHER, se lyn.

Ek vertel hulle toe van my neef in Kemptonpark, Cornelius Rudolf CAMPHER wat groot geword het op Wolwespruit. Dis toe dat Martie vertel dat hulle eie neef en niggie is. Hulle twee het mekaar laas as kinders gesien en nog nooit weer nie.

Om ‘n lang storie kort te maak: Maggie het vandeesweek haar Ma, Martie, na haar oom Corrie in Kemptonpark geneem. So is hierdie twee, neef en niggie, na amper sestig jaar weer met mekaar in aanraking gebring. Hierdie foto getuig hiervan. Dit was vir albei ‘n blye dag van herontmoeting.

En, wie moet ons daarvoor bedank? Die genealogiedag van Noordwes in Klerksdorp. Voorgaande onderstreep die waarde van genealogie in die alledaagse lewe asook die waarde van samesyn en gesprekke op dae soos dié op Klerksdorp.

Terloops, prof. Louis Kamfer van Port Elizabeth het pas ‘n “Geslagsregister van die Campher/Kamfer/Kamffer-familie in Suid-Afrika” die lig laat sien. Dit het vir my baie dinge opgeklaar oor die naam Campher/Kamfer/Kamffer. Ons almal is tog maar al die tyd familie.