JAARPROGRAM

Vergaderings van die tak word elke derde Saterdag van die maand om 14h00 gehou by die Nederduits Gereformeerde Kerk Ontdekkerskruin, Philipslaan, Ontdekkers, Roodepoort.
Klik op JAARPROGRAM
hierbo vir besonderhede.

19 April 2010

Die Genealogiedag in Klerksdorp

Deur John Stephens, mede-vise-voorsitter en sekretaris

Vir sommige van ons was dit nogal ‘n uittog om reeds voor 09:00 ons stalletjie by die Genealogiedag in Klerksdorp gereed te hê. Danksy 'n spanpoging was die sake in orde toe die eerste mense hul familienavrae begin vra het.

Bo: Hendrik Louw, GGSA-president, gesels met teenwoordiges by die Genealogiedag in Klerksdorp. (Klik op enige foto om dit te vergroot.)

Daarna het dit eenvoudig net nie afgeneem nie. Die hele dag, ononderbroke, het Lucas Rinken die e-SAGI laat werk. Talle en talle navrae is hanteer. Met die hulp van Kriek Fourie is ‘n hele aantal CD’s ook verkoop.

Maar laat ek voor begin. Herzola van Heerden en Altha van Zyl van die Klerksdorp-museum, in samewerking met GGSA se Noordwestak, het hierdie genealogiese dag op 17 April 2010 in die Munisipale Museum, Klerksdorp (die ou tronk) aangebied. Die doel van die byeenkoms was om genealogie onder die algemene publiek te bevorder.

Kenners van talle vanne (familiename) het hul kennis met die publiek gedeel. Stalletjies het met die spesifieke van (familienaam) buite-op gespog. Sowat 200 mense was teenwoordig. ‘n Mens kon inligting kry oor die Anglo-Boereoorlog en krygsgevangenes; oor 'n verskeidenheid familiename en boeke oor genealogiese onderwerpe was volop.


Links: Gemoede- likheid. Daar is baie gekuier en inligting uitgeruil by die stalletjies.


Kriek se kombi was vroegoggend gelaai met ses lede. Lucas het die toerusting en voorraad aangery. Ander lede, onder meer ons staatmakerpaar, Frans en Donna Viljoen, Neels Coertse en Giel Nel, het op eie stoom daar aangekom. Ons kon die hartlike Wes-Transvaalse gasvryheid ervaar en beleef!

Onder die aanwesiges was ons president, Hendrik Louw en Leoni Barnard, ons NUK-sekretaresse, Simon du Plooy, ons gasheer en voorsitter van Noordwestak, Elria Wessels, Christo Viljoen, Isabel Groesbeek, Isebelle Krause, Daan Hamman, en vele ander kenners. Takke wat teenwoordig was sluit in Vrystaat, Noord-Transvaal, Vaaldriehoek, e-GGSA, Wes-Gauteng en natuurlik Noordwes.

Verskeie sprekers het oor die interessanste onderwerpe gepraat.
  1. Simon du Plooy het die verwelkoming gedoen.
  2. Hendrik Louw het oor die GGSA in 2010 gepraat;
  3. Prof Christo Viljoen se onderwerp was die Hugenotevereniging van Suid-Afrika en die Genealogiese Instituut van Suid-Afrika;
  4. Prof Francois van der Westhuizen het gesels oor Genetika vir Genealogie: Benaderings en Beginsels;
  5. Isabel Groesbeek het praktiese wenke aan die gehoor gegee;
  6. Isebelle Krause en Virginia Vetten het oor die LDS, Rekords en Stelsels gepraat en
  7. Johan Wolfaart van die Oorlogmuseum het oor die Anglo-Boere-oorlog se periodedrag gepraat.
Regs: 'n Genealoog se dood: boeke, soeke en naslaan.

Daar was geen koste aan uitstallings verbonde nie. Die perseel en wat daarmee saamgaan is deur die stadsraad verskaf. Tafels en kragpunte is voorsien.

Ons hartlikste dank aan Herzola en Alta wat vrou-alleen die plek moes inrig, aangesien die munisipale werkers gestaak het. Plaaslike dames het vir die heerlike eet en drink gesorg. Baie dankie daarvoor.

Links:  Marie van der Walt by die uitstalling van die Noord-Transvaaltak vol kykgoed.

Ons moet die Noordwestak en die Museum hartlik bedank vir ‘n uiters geslaagde en baie aangename dag. Mense was dit eens dat hierdie soort byeenkoms vorentoe weer moet geskied. Vir die GGSA en interaksie met die verskillende takke en besture is dit ‘n noodsaaklikheid.

Soos al gewoonte geword het, was Lucas se rekenaar en ons nuutverworwe Acer-projektor baie aandag getrek -- natuurlik om e-SAGI te vertoon en te verkoop.

Gasheer Simon du Plooy (regs) skryf:  Dit was werklik 'n ondervinding om te sien hoe meer as 200 lede van die publiek gretig is om meer oor hul families en voorsate te wete te kom, hoe name en adresse geruil is, inligting gekry en bekom is.

Ekself het na 'n vyf jaar-lange soektog die doopdatum van ene Dirk Daniel du Plooy gekry om sodoende bykans 11 bladsye ongekoppeldes nou positief in die register te plaas - Lekkerrr!

So was daar vir andere ook aangename suksesse. Christo Viljoen se inligting uit 'n familiebybel. Johan Pottas se verkoop van sy eerste Baumann CD aan 'n Baumann! En nog meer.

Die bywoning van elke aanbieding was 'n openbaring, elke keer was die saaltjie stampvol, en elke keer was daar pitkos vir die toehoorders. 'n GROOT DANKIE aan almal wat deelgeneem het, die sprekers wat sonder aarseling ingestem het toe hulle genader is, die besoekende navorsers van naby en van ver en die takke wat kom kuier het.

Op SAGen het Christo Viljoen (links) soos volg geskryf: "Ek was bevoorreg om die genealogiedag van die Noordwes-tak van GGSA by die Klerksdorp-museum by te woon. 'n Groot getal genealoë en belangstellendes het van so ver as Bloemfontein gereis om die dag daar deur te bring.

En wat 'n belewenis was dit nie! Navorsers van sowat 50 SA families was teenwoordig, plus ander uitstallers wat 'n verskeidenheid van boeke en ander genealogiese produkte beskikbaar gestel het.

Die reëlings was puik. Hartlik geluk aan Simon du Plooy en die personeel van die Klerksdorpmuseum - en die voordragte goed bygewoon. Ekself het waardevolle persoonlike kontakte gemaak en genealogiese kenners met wie ek nog net via e-pos gekommunikeer het, in persoon ontmoet.

'n Verrassing vir my was die besoek van Frans en Donna Viljoen van Krugersdorp wat 'n pragtige ou Viljoen-familiebybel saamgebring het, wat voorin 'n familiestamboom bevat wat teruggaan na 1826 teruggaan, met behulp waarvan ek my eie Viljoen databasis kon aansuiwer en korrigeer. Dankie ook vir die geleentheid om die gehoor in te lig oor die Hugenote en GISA.