Die gesprek oor familiewapens of -kentekens is weer oop. Hieronder is standpunte soos dit vroeër dié week op SA Genealogie verskyn het.
Daniël Jacobs: Ek het met my navorsing oor die Vosloos redelik baie tyd spandeer om agter die kap van die byl te probeer kom m.b.t. die familiewapen-storie.
Hierna aangeheg iets wat ek daaroor geskryf het (die finale gepubliseerde teks mag daarvan verskil). My persoonlike standpunt is dat alhoewel die tradisie van die Europese vasteland nie voorsiening maak vir die voer van 'n wapen per familie nie, daar nie gesê kan word dat ons dit nie mag doen nie. (Die aangehegte stuk waarna verwys word, verskyn ná die kommentaar van Johan Barkhuizen. Klik op "Lees meer".)
Ek skat Afrikaners doen dit veral sedert Die Brandwag in die 1940's wapens vir Afrikaner-families begin publiseer het. Vir my is dit bloot 'n geval van 'n groep mense wat 'n nuwe tradisie geskep het. Ekself gaan nog solank ek lewe eendag vir my 'n familiewapen registreer. Ek vind baie meer aanklank by die tradisie dat dit gaan oor persoonlike uitkenning as waar een wapen vir 'n hele familie gevoer word, maar sou ook as daar bv. 'n Brandwag-wapen vir die Jacobse was, dit gebruik het.
Een van die amptenare by die Buro vir Heraldiek het heftig met my verskil daaroor, maar my standpunt is dat as genoeg mense 'n nuwe tradisie skep, help dit nie om te sê dat die tradisie vir eeue lank anders was nie. Bygesê dat ek nog steeds mense sal aanmoedig om eerder hulle eie unieke wapens te laat registreer. Die ontwerp en registrasie van 'n wapen kos egter seker deesdae 'n paar duisend rand.
Dennis Pretorius: Ek is nogal geneig om met jou saam te stem en teen die algemeen-aanvaarde standaard te stem.
Wat tradisie vir die afgelope 10 eeue was, hoef nie slaafs nagevolg te word nie. Ons kan begin om 'n nuwe tradisie te vestig. Is daar wette wat bepaal dat ons nie 'n nuwe familiewapen vir alle MALAN mense kan begin gebruik nie sonder dat die amptelik geregistreer is? Ek aanvaar dat bestaande geregistreerde familiewapens nie misbruik mag word nie, maar ek kan seker 'n familiewapen teken en ek kan dit gebruik en toelaat dat alle Pretoriusse dit kan gebruik sonder dat hulle hoef lid te wees van die Pretorius-familiebond nie.
Daniel en ek trap nou miskien op heilige koeie se tone, maar moet dit nie dalk bespreek word nie ?
Johan Barkhuizen: Die familiewapens is nogal 'n Babelse verwarring. Entrepeneurs wat dit op skoue verkoop, versterk die chaos. Uit die aard van die saak het meeste mense geen behoefte aan individuele wapens nie, want ons het net nie daardie tradisie nie. Die persepsie van 'n embleem vir die hele familie is BAIE sterk en ek dink mens moet daardie roete loop.
Baie familiebonde registreer 'n wapen en by implikasie aanvaar die hele familie dit. (Dis wat jy met nuwe tradisie bedoel.)
Soos ek gesê het, het die twee groot Barkhausen-takke in Duitsland in die 1930's die oudste historiese wapen gesoek en dit vir hulle “Familienbund "geregistreer"? Dit is toevallig die wapen van die Gut Niederbarhausen, waar ons stamvader vandaan kom.
Dit lyk my uit die Heraldiese reëls sal dit onmoontlik wees om hierdie selfde wapen in SA te laat registreer vir ons Familiebond.
Ons moet dus maar die lang en duur paadjie loop om 'n nuwe unieke wapen vir ons eie Familiebond te registreer OF ons moet maar in 'n familiegeskiedenis skryf "hierdie is die Duitse wapen" en dan ipso facto aanvaar dis sommer ons s'n sonder enige registrasie en amptelikhede. (Ek sal tog die Duitse Bund se mening hieroor toets.)
Ek is oortuig 'n nuwe ontwerp sal vir my persoonlik altyd bietjie vreemd bly. Die historiese sentiment van die wapen op die geboue van Niederbarhausen of op die grafsteen van stamvader se oupa in Horn uit vroeë 1700's sal net te sterk wees. Dis mos waar ek vandaan kom.
HOOFSTUK 3: Familiewapens
Ons gebruik van familiewapens het sy oorsprong in die Middeleeue, toe 'n ridder uitgeken is aan die wapen op sy skild, en is reeds ongeveer negehonderd jaar oud.
Daar bestaan 'n wanpersepsie by waarskynlik die meeste Afrikaners dat hierdie tradisie daarvoor voorsiening maak dat 'n familiewapen aan 'n hele familie kan behoort. Meegaande wapen (Figuur 1 bl. ?), wat op 19 April 1946 in die tydskrif *Die Brandwag* gepubliseer is, is sedertdien gebruik om verskillende wapens, wat almal min of meer dieselfde lyk, te ontwerp. Twee variasies op hierdie wapen verskyn hiernaas (Figure 2 en 3 bl. ?). Baie Vosloos aanvaar hierdie betrokke wapens, en moontlik ook ander variasies, as die familie se amptelike wapen. Meer as een Vosloo het egter ook al vir my gevra watter een van die verskillende variasies op die wapen die ``regte'' wapen is. Ongelukkig nie een nie.
Een van die grondbeginsels van die heraldiek, of wapenkunde, wat internasionaal en oor eeue heen aanvaar is, is dat 'n spesifieke wapen net gebruik mag word deur een individu. Die hele gedagte was dat dit 'n stelsel van persoonlike uitkenning moes wees. Daar bestaan dus nie so iets soos 'n wapen vir 'n hele familie nie. Ná die pa se dood mag sy oudste seun sy wapen oorneem. Tydens sy pa se leeftyd mag die seun slegs sy pa se wapen gebruik nadat 'n spesiale merk op die wapen aangebring is, wat dan verwyder word ná die pa se dood. As die tweede oudste seun ook 'n wapen wil hê, moet hy sy eie laat ontwerp. Dit kan gedoen word deur die aanbring van 'n wesenlike verandering aan sy pa se wapen. Die wapen kan dan ná *sy* afsterwe weer deur *sy* oudste seun gebruik word en dan ad infinitum van oudste seun na
oudste seun oorgedra word. Ons sal later na 'n voorbeeld kyk van hoe so 'n verandering van 'n pa se wapen kan lyk. Dogters kan ook hul eie wapens laat ontwerp.
Namate daar gedurende die vorige eeu 'n toenemende belangstelling in familiewapens by Afrikaners ontstaan het, het baie mense bestaande wapens oorgeneem sonder dat hulle aanspraak daarop gehad het. Só bv. sou 'n Gous die wapen van 'n ou Gous-familie in Frankryk opspoor en dan die wapen as sy eie aanvaar sonder om eers navorsing te doen om vas te stel of hy daarop geregtig is om die wapen te gebruik. In 'n inligtingstuk van die Buro vir Heraldiek in Pretoria word o.m.die volgende gemeld: ``Hierdie wapenoornames het sy hoogtepunt bereik in 'n reeks genealogiese artikels wat deur NH Theunissen onder die opskrif *Afrikaner ken uself*, in die tydskrif *Die Brandwag* gedurende 1944-1947 gepubliseer is." Saam met die artikels is familiewapens afgedruk wat deur baie lede van die onderskeie families as hulle familie se wapen aanvaar is. Sommige van die wapens was bestaande wapens wat oorgeneem is uit heraldiese bronne terwyl ander weer deur Theunissen saamgestel is uit die onderdele van verskillende wapens. Die oorsprong van Theunissen se Vosloo-wapen is onbekend. Die gebruik van wapenoornames het egter nie net in Suid-Afrika voorgekom nie, maar oor die eeue heen ook op groot skaal in Europa en dan veral op die vasteland. Die belangstelling in *Die Brandwag*-wapens was so groot dat 'n klein nywerheid in die verkoop van asbakke, borde en ander voorwerpe waarin die wapens afgedruk is, ontstaan het. Leon (1967) het 'n foto van so 'n asbak (sien bl. ?) aan ons gestuur. Interessant genoeg, sy pa, Gerhardus Petrus Johannes (1929), het aan hom genoem dat hy die asbak vroeg in 1946 in 'n sportwinkel in Vereeniging gekoop het. *Die Brandwag*-artikel oor die Vosloo-familie het op 19 April 1946 verskyn. Volgens Leon het sy pa hierdie inligting op die aand van 4 Februarie 2000 aan hom gegee en is hy die volgende dag aan 'n hartaanval oorlede.
Indien iemand regsbeskerming sou verlang vir sy familiewapen, kan hy dit laat registreer by die Buro vir Heraldiek. Kragtens artikel 21(b) van die wet mag niemand so 'n geregistreerde wapen of 'n wesenlike deel daarvan gebruik, naboots verkoop ens. sonder die skriftelike toestemming van die eienaar nie. Die enigste Vosloo wat tot op hede vir hom 'n wapen laat registreer het, is Johannes Jacobus (1927) van Lynnwoodrif in Pretoria (Figuur 4 bl. ?). Sy twee seuns is Deon Gysbertus (1956) en Pieter Gabriël (1962). As oudste seun mag Deon Gysbertus (1956) dus dieselfde wapen gebruik op die voorwaardes soos hierbo uiteengesit, maar Pieter Gabriël (1962), as naasoudste seun, moet vir homself 'n nuwe wapen laat ontwerp. Soos reeds
genoem, hoef hy nie 'n heeltemal nuwe wapen te ontwerp nie, maar sou bv. die middelste boom in sy pa se wapen kon vervang deur 'n simbool wat verband hou met sy beroep. Indien u meer inligting benodig oor die ontwerp en registrasie van 'n wapen kan u die Buro vir Heraldiek by 012 3235300 skakel.
U kan ook skryf aan die Buro vir Heraldiek, Private Sak X236, Pretoria 0001. Die Heraldiekwet verplig 'n mens egter nie om jou wapen te laat registreer nie. Die gemene reg (dws. ongeskrewe gebruik wat algemeen as regsgeldig aanvaar word) laat dit toe dat enige persoon sy eie wapen mag laat ontwerp en gebruik mits dit nie met 'n ander se wapen bots nie. Meegaande wapen (FIGUUR 5 - bl. ?) wat Jan (1934) van Durbanville gebruik, is 'n wapen wat hy kragtens die gemenereg kan voer. Dr. Cor Pama het dit ontwerp, maar Jan het dit nie laat registreer nie. Volgens die Buro vir Heraldiek het dit al gebeur dat mense wapens wil laat registreer het wat hulle by ander mense gesien het en dit is dus moontlik dat 'n ander Vosloo Jan se wapen kan laat registreer en hom sodoende die reg ontsê om daarna die wapen te mag gebruik.
Dit is dus aan te bevele dat mens jou wapen laat registreer. Jan het die volgende interessante inligting oor die wapen verskaf. Dr. Pama het aanbeveel dat die vos, as sentrale figuur, op die helmteken moet verskyn. Hy het ook aanbeveel dat die dennebome van *Die Brandwag*-wapen weggelaat word omdat dit 'n uitheemse simbool is. Die sekelmaan is weggelaat omdat dit die konnotasie kon hê van ``met die maan gepla" te wees. Daar is ook besluit om die skildvoet skoon te laat in teenstelling met die baie besige skildvoet van *Die Brandwag*-wapen. Jan noem verder dat hy 'n houtsneewerk van die wapen het asook een van die asbakke waarin *Die Brandwag*-wapen afgedruk is. Dan noem hy verder dat sy enigste en oudste seun, Jan Johannes (1972), ook die wapen gebruik. 'n Familie sal nie verbied kan word om 'n spesifieke wapen, soos bv. *Die Brandwag*-wapen, as die hele familie se wapen te aanvaar en gebruik nie. Dit moet egter nou duidelik wees dat so 'n gebruik uit 'n heraldiese en historiese oogpunt nie veel waarde het nie.
Dit is ook interessant om daarop te let dat die Heraldiekwet dit tans verbied dat enigiemand in Suid-Afrika 'n afdruk van 'n familiewapen mag verkoop tensy hy of sy oor 'n sertifikaat van egtheid vir die betrokke wapen beskik. Die Buro vir Heraldiek sal so 'n sertifikaat slegs uitreik vir wapens wat by hulle geregistreer is. Diegene wat dus o.m. by skoue en in winkelsentrums sleutelringe, asbakke, sertifikate ens. Waarop familiewapens afgedruk is, verkoop, oortree die wet. Die een Vosloh-familie in die VSA met wie ons kontak gemaak het, het ook 'n familiewapen en hulle gebruik die betrokke wapen (FIGUUR 6 bl. ?) ook as 'n wapen vir die hele familie. Dot Vosloh het die volgende inligting oor hul familiewapen vir ons gegee: ``Years ago there was a company who supposedly could find family crests. An uncle, Herman Vosloh (*presumably an uncle of her husband)*, subscribed to get the information and we do have a crest
supposedly attributed to Vosloh. We had T-shirts printed with the crest one year and for the last reunion had the crest stitched on shirts." Dot het een van die hemde vir Ton Vosloo geskenk en meegaande foto (sien FIGUUR 6) is 'n afdruk van die wapen wat op die hemp geborduur is.
Ons kon nie daarin slaag om enige Vossloh-familiewapens in Duitsland op te spoor nie. Nie een van die Duitse Vosslohs met wie ons in verbinding was, was bewus van die bestaan van enige Vossloh-wapens nie. Een van ons medewerkers, Martin Zimmer, het genoem dat die Kantoor vir Heraldiek in Garmisch-Partenkirchen 'n instansie is wat moontlik inligting sou hê oor die bestaan van Duitse Vossloh-familiewapens al dan nie.