Japie Bosch |
Op een maand na het ek dit vir ses jaar bedryf.
In dié ses jaar is die joernaal (blog) een keer herontwerp, maar die oue het behoue gebly en dit word steeds gereeld besoek. Die twee joernale is saam bykans 39 000 keer besoek en al die berigte is altesame 66 000 keer gelees. Dis 'n aanduiding van hoe wyd die tak se aktiwiteite gevolg is.
Lucas Rinken |
Ek kan nie nalaat nie om my dank aan Lucas Rinken oor te dra vir sy ondersteuning deurgaans. Altyd behulpsaam, altyd hoflik. Sy reeks Interessanthede uit die e-SAGI het in die begindae stukrag aan die blog gegee. Ook op persoonlike vlak het hy betekenis aan my lewe gegee.
Dankie ook aan die takbesture die afgelope jare om my met die blog te vertrou. Ek het daarby gebaat.
Betreffende die voortsetting van hierdie joernaal asook die gebruikmaking van blogs deur soortgelyke instansies noem ek die volgende:
- Dit is 'n uiters doeltreffende kommunikasiemiddel en boonop gratis;
- Dit is des te meer in die genealogie bruikbaar, omdat die meeste beoefenaars daarvan toegang tot die internet het;
- Dit is maklik om te gebruik. Geen tegniese kennis is nodig nie. Net die vermoë om te lees;
- Die sukses van 'n blog lê in spanwerk. Om dit aan een of twee persone oor te laat, is demotiverend.
- Waak teen tierlantyntjies;
- As jy nie weet hoe nie, vra iemand wat weet of Google dit. Laasgenoemde is 'n uitstekende hulpmiddel.